LIMPOPO. – ‘n Foto van ‘n verkeerde naambord van die Jane Furse-polisiekantoor word tans op sosiale media versprei. Genl.maj. Jan Scheepers, die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, sê die foto is misleidend.
Luidens ‘n verklaring van brig. Hlulani Mashaba, polisiewoordvoerder, is die betrokke naambord reeds in 2022 reggestel. Die foto wat nou weer versprei word, is dus verouderd en onakkuraat.
Hy het ’n beroep op die publiek gedoen om verantwoordelikheid aan die dag te lê met die gebruik van sosiale media. “Een van die grootste uitdagings waardeur ons vandag in die gesig gestaar word, is die verspreiding van vals nuus. Ons doen ’n beroep op gebruikers om inligting te verifieer voordat dit gedeel word, aangesien die verspreiding van vals of verouderde inhoud die beeld en geloofwaardigheid van die SAPD kan ondermyn,” het Scheepers bygevoeg.
Die polisie het herhaal dat die SAPD verbind bly tot die handhawing van sy korporatiewe beeld, die bevordering van openbare vertroue en die diens en beskerming van gemeenskappe.





