KWAZULU-NATAL. – Die polisie vra die gemeenskap se hulp om vier verdagtes van Johannesburg op te spoor: Lucinda Langton, Shaun Minnaar, Keegan Agulhas en Sabelo Mullela. Hulle word verbind aan ’n bedrogsaak wat by Pietermaritzburg aangemeld is.
Luidens ‘n verklaring van sers. Thenjiswa Ngcobo, polisiewoordvoerder, het ‘n vrou (60) op 9 April 2020 ’n bedrag geld betaal as die balans vir die koop van ’n huis. Haar skoonseun het die deposito namens haar betaal en en later nuwe bankbesonderhede aan haar verskaf van die maatskappy wat die transaksie hanteer. Toe sy opvolg met die maatskappy, het sy vasgestel dat die geld nooit in die besigheid se rekening inbetaal is nie. Hulle het ook bevestig dat die bankbesonderhede wat aan haar gegee is, nie hulle s’n is nie. ‘n Voorlopige ondersoek het onthul dat die rekeningnommer wel dié van ‘n sekere persoon is en dat die geld wat inbetaal is, in die rekeninge van die verdagtes oorgeplaas is.
Die polisie vra enigiemand met relevante inligting oor waar die verdagtes hulle bevind, om konst. Lawrence by 076 428 7836 te bel.





