MPUMALANGA. – Die Delmas-polisie is op soek na verdagte(s) nadat Thandolwethu Mahlangu (7), wat sedert 10 November, omstreeks 18:00 vermis geraak het, se liggaam Woensdag in Delpark-uitbreiding 2 aangetref is.
Luidens ‘n verklaring deur lt.kol. Jabu Ndubane, polisiewoordvoerder, het Ayanda Ngwenyama haar dogter op 11 November as vermis by die Delmas-polisiekantoor aangemeld. ’n Saak is geopen en alle relevante rolspelers is ingelig.
Daar word beweer dat die kind na haar pa se huis is en nie teruggekeer het nie. Omstreeks 07:00 die volgende oggend het Ngwenyama ’n SMS van ’n onbekende nommer ontvang waarin R30 000 geëis is in ruil vir haar kind se veiligheid. Die boodskap het beweer dat die geld deur die kind se pa verskuldig was.
Tydens die voorlopige ondersoek is die selfoonnommer wat deur die ontvoerders gebruik is in die Botleng-gebied opgespoor. Geldskieters in die omgewing is ondervra en verskeie adresse wat met die ondersoek verbind word, is besoek, maar sonder enige vordering.
Die liggaam van die kind is Woensdagoggend omstreeks 07:30 gevind. ’n Buurman wat sy erf skoongemaak het, het die liggaam ontdek nadat hy die kind se bene onder puin agter ’n hut sien uitsteek het. Alle relevante owerhede is onmiddellik in kennis gestel en het die toneel besoek.
‘n Moorddossier is geopen.





