NOORDWES. – Die Motihibistad-polisie het motoriste gewaarsku om ekstra waaksaam te wees wanneer hulle gedurende die vroeë oggendure of laatnag reis, nadat verdagte padblokkades oor die naweek op die N14 naby Kagung aangetref is.
Luidens ’n verklaring deur die bevelvoerder van sigbare polisiëring, kapt. Nomvuyo Makoloi, het polisiebeamptes Saterdagoggend omstreeks 03:00 tydens ’n blouligpatrollie padkonstruksietekens vir ’n stop-en-ry-punt op die roete aangetref. Daar word vermoed dat die tekens doelbewus deur misdadigers geplaas is om motoriste te laat stilhou, waarna hulle met klippe aangeval en van hul besittings beroof sou word. Beamptes het onmiddellik die vals stop-en-ry-tekens verwyder en die pad weer vir verkeer oopgestel. Geen verdagtes is op die toneel aangetref nie.
Makoloi het ’n beroep op die publiek gedoen om enige verdagte padblokkades of ongewone aktiwiteite sonder verwyl by die polisie aan te meld.






