OOS-KAAP. – ’n Polisiekonstabel (32), gestasioneer by Dimbaza-polisiekantoor, is Saterdag in Zabalaza in hegtenis geneem nadat ’n saak van aanranding met die opset om ernstig te beseer, wat met huishoudelike geweld verband hou, teen hom geregistreer is. Sy meisie het glo kop- en gesigbeserings opgedoen.
Brig. Nobuntu Gantana, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die beweerde voorval het verlede Woensdag plaasgevind toe die beampte na bewering sy 23-jarige meisie aangerand en sy in die Grey-hospitaal behandel is.
Polisiebestuur is Vrydagoggend van die voorval ingelig en het vinnig opgetree en die beampte se amptelike polisiedienswapen van hom weggeneem. Nadat die meisie ‘n saak geregistreer het, is Saterdag na die beampte gesoek. Hy is in hegtenis geneem en aangekla.
Die beampte bly in aanhouding en sal Maandag in die Dimbaza-landdroshof verskyn.





