Sers. Masibulele Qinisile (41) van die Cacadu-polisiekantoor in die Chris Hani-distrik het twee toekennings gekry tydens die SAPD se 11de Excellence Awards-geleentheid in Bloemfontein. Qinisile het onder andere die Nasionale Kommissaris-toekenning ontvang en met die erkenning ‘n nuwe motor in ontvangs geneem.
Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring Qinisile het ’n noodgeval hanteer waar ’n man sy vrou en kind met ’n vuurwapen aangehou het. Een van sy kollegas is tydens die konfrontasie ontwapen en die verdagte het geskiet, maar Qinisile het die situasie alleen hanteer en die gesin en sy span beskerm.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPS) het vanjaar vir meer as 350 lede erkening gegee. Die geleentheid vier dapperheid, toewyding en uitmuntende diens van polisielede regoor die land.
Hier is van die ontvangers van toekennings wat gedurende die 2024/2025 finansiële jaar uitstaande prestasies gelewer het:
▶️ Brig. Hanana en sy span van die Wes-Kaap is vereer met ’n Nasionale Kommissaris-toekenning vir hul onverpoosde ondersoekwerk wat gelei het tot die veroordeling van Joshlin Smith se moeder, Kelly Smith, en haar twee mede-beskuldigdes tot lewenslange tronkstraf vir mensensmokkel en ontvoering, sonder dat ’n liggaam gevind is. Ondersoek na Joshlin se verdwyning gaan steeds voort.
▶️ Sers. NR Bokolo van die Oos-Kaap se Elektroniese Misdaad Ondersoek-eenheid is aangewys as die Familiegeweld-, Kinderbeskerming- en Seksuele Misdade (FCS) Ondersoeker van die Jaar, vlak 5–7.
▶️ LD Mulaudzi, algemene werker, van Brakpan-polisiekantoor in Gauteng, is aangewys as Administratiewe Werknemer van die Jaar.
▶️ Polisiekantoor van die Jaar is toegeken aan SAPD Umkomaas, KwaZulu-Natal. Onder die leiding van kol. MI Mngadi (nou afgetree) het die kantoor klagtes teen die polisie met 50 persent verminder.
▶️ Kol. N Ndzotyana, wat Operasie Vala Umgodi in die Vrystaat gelei het, is aangewys as Operasionele Lid van die Jaar.





