GAUTENG. – Sers. Kate Lindiwe Hlongwane (43), verbonde aan Dube-polisiestasie, is vandag in die Pretoria-Noord-landdroshof borg geweier op aanklag van moord met voorbedagte rade op Russel Hlongwane (40) op 28 Januarie in Soshanguve.
Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG, sê na bewering het die egpaar op die betrokke oggend ‘n rusie in hulle huis gehad. Die sersant het haar man glo verskeie kere met haar dienspistool geskiet. Die buurman het die skote gehoor en ondersoek ingestel. Hy het die oorledene op die grond aangetref en hom na Akasia-hospitaal geneem waar hy ‘n paar uur later gesterf het.
Die sersant is dieselfde dag in hegtenis geneem en die saak is vir ondersoek na Opod verwys.
Mahanjana sê Holngwane het in die hof ontken sy het haar man met opset geskiet en sê die vuurwapen het afgegaan terwyl sy tydens die rusie met hom in ‘n fisiese struweling betrokke was. Sy het gevra borg moet toegestaan word, aangesien sy die primêre versorger van hulle drie minderjarige kinders is.
Adv. Tumelo Letaoana het die borg geopponeer en gesê die sersant het haarself van die verantwoordelikheid as versorger van haar kinders gediskwalifiseer omdat die kinders nou deur die oorledene se familie versorg word. Letaoana het aan die hof voorgehou Hlogwane het ‘n ernstige geslagsgebaseerde misdaad gepleeg. ‘n Stemopname is in die hof gespeel waarin sy aan ‘n vriendin gesê het sy is “moeg vir haar man wat haar verneuk en sy gaan nou haar mag gebruik”.
Die landdros het saamgestem dat Hlongwane nie daarin geslaag het om die hof te oortuig om borg toe te staan nie en dat die staat homself oortref het om borg teen te staan.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 29 April uitgestel.





