NOORDWES. – Drie speurders van Vryburg het Donderdag in die Vryburg-landdroshof voorgekom op ‘n aanklag van veediefstal met ‘n amptelike polisievoertuig nadat hulle Dinsdagaand (30 September) in hegtenis geneem is.
Die saak spruit uit ’n voorval op Broedersput-plaas waar ’n boer opgemerk het dat vier van sy skape vermis is. Hy het spore van ’n onbekende voertuig op die plaas opgemerk en beeldmateriaal van die plaas se veiligheidskameras ondersoek. Die beeldmateriaal het ’n wit Nissan NP300-bakkie vasgelê wat die plaas binnegekom het.
Ondersoek het bevestig dat die voertuig aan Vryburg-speurders behoort. ’n Gesamentlike operasie deur die Vryburg-honde-eenheid, die eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies, plaaslike speurders, misdaadintelligensie en die plaaslike kriminele rekordsentrum het die span na ’n RDP-huis in Dithakwaneng buite Vryburg gelei waar twee en ’n half skaapkarkasse gevind is.
Lt.kol. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder, sê sers. Difedile Modisaotsile (43), sers. Mosimanegape Mokoena (40) en konst. Lemogang Gaelesiwe (31) is elk op R1 000 borgtog vrygelaat. Loeto Moncho (43), die huiseienaar, is vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom in hegtenis geneem. Hy is op R500 borgtog vrygelaat en sal weer op 11 November saam met die drie polisielede in die hof verskyn.
Luidens ‘n verklaring van die departement van gemeenskapsveiligheid en vervoerbestuur is twee polisiebeamptes van die Sun City-polisiekantoor in Pretoria vasgetrek nadat hulle glo saam met twee lede van die gemeenskap ietermago’s vir R160 000 probeer verkoop het. Hulle is tydens die vermeende transaksie deur polisielede in ’n lokval betrap.
Sello Morweng, Noordwes se LUR vir gemeenskapsveiligheid en vervoerbestuur, het gesê dat die inhegtenisneming van polisiebeamptes betreurenswaardig is, maar dit wys dat niemand bo die reg verhewe is nie.