GAUTENG. – President Cyril Ramaphosa het Woensdag (12 November), ingevolge artikel 91(3)(b) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, veranderinge aan die Nasionale Uitvoerende Gesag aangekondig.
Luidens ‘n verklaring van die presidensie het die president Willem Abraham Stephanus Aucamp aangestel as minister van bosbou, visserye en die omgewing. Hy het dr. Dion George, ingevolge artikel 91(2) van die Grondwet, uit dié portefeulje verwyder. Verder het die president Alexandra Lilian Amelia Abrahams, ingevolge artikel 93(1)(a) van die Grondwet, as adjunkminister van handel, nywerheid en mededinging aangestel.
Ramaphosa het die nuwe aangesteldes sterkte toegewens in hul portefeuljes.





