Ek sit en skryf vanaand se rubriek in groot ongemak, met ’n geswelde, geïrriteerde linkeroog. Saterdagaand lê ek en kyk lekker boks op die TV, toe voel dit skielik asof daar iets in my oog is. Soos enige normale mens begin ek my ooglede oor mekaar trek, ek spoel dit onder die kraan, en daarna probeer ek elke liewe stap wat ChatGPT my kon gee vir hulp … en niks help nie!
Ná ’n besoek aan ’n vriendelike oogkundige word ek gediagnoseer met blasies in my ooglid – nie te ernstig nie. Drie tot vier dae, en ek behoort weer reg te wees. Dank die Here daarvoor! Maar jy kan jou indink dat die afgelope twee nagte nie ’n grap was nie… en dit boonop op my enigste afdag van die week.
Mens raak moedeloos as jy so sukkel en niks werk eenvoudig nie. Ek het hoeveel keer die Here gevra om te help, en elke keer as ek iets nuuts probeer het, gebid dat dit die een sal wees… maar dit was nie.
Was ek kwaad vir die Here omdat Hy my nie verligting gegee het nie? Glad nie.
Was ek gefrustreerd, geïrriteerd en amper gereed om ’n vurk in my eie oog te steek? Ja, nogal.
Maar dan dink ek aan Job en hoe hy gely het en alhoewel hy met God gestoei het, het Hy hom nooit verlaat het nie. Hy het bly vra. Bly soek.
Ek dink ook aan Paulus wat gekla het oor die “doring in sy vlees” – iets waarvan niemand vandag regtig weet wat dit was nie. Hy het die Here gevra om dit weg te neem, en die antwoord wat hy gekry het, was:
“My genade is genoeg vir jou.”
En tog het Paulus daarna nog ongelooflike dinge vir die koninkryk gedoen. Dit lyk nie asof daardie doring hom gestuit het nie.
Ek besef toe: daar is altyd iets om te leer, selfs met ’n oog soos myne.
Ek lê gisteraand en dink daaroor, en die antwoord kom stadig maar seker: Dis maklik om “normaal” te wees wanneer alles goed gaan. Maar wanneer dinge begin seer raak, moeilik raak, kom dit wat diep binne jou lê, na vore.
Jy hap na mense.
Jy sê goed wat jy nie moet nie.
Jou humeur is korter as wat jy gedink het.
Miskien ontdek jy selfs ’n stuk selfbejammering, of dat jou geloof begin wankel wanneer God nie antwoord soos jy hoop nie.
Daar is soveel wat in tye van beproewing na vore kom – goed wat jy andersins nooit sou raaksien nie.
Die vraag is net: gaan jy dit raaksien… of gaan jy vaskyk in jou eie ellende?
Dalk gaan jy nou deur iets moeilik.
Dalk wil ons Vader vir jou wys wat nog in jou hart skuil – nie om jou te breek nie, maar om jou te vorm.
Gedagte vir die dag:
Soms wys lyding nie net hoe seer jy is nie—dit wys ook wat nog in jou hart genees moet word.
Psalm 139:23–24
“Deurgrond my, o God, en ken my hart… kyk of daar by my ’n weg van smart is, en lei my op die ewige weg.”





