KWAZULU-NATAL. – Die N3 Toll Concession (N3TC) in KwaZulu-Natal dui in ’n verslag aan dat verkeersvolumes aan die toeneem is namate reisigers ná die Paasnaweek huiswaarts keer.
Luister ook: SABC-potgooi
Sowat 1 300 voertuie per uur het teen Vrydagmiddag suidwaarts na die kus beweeg. Dit terwyl ongeveer 900 voertuie per uur noordwaarts gereis het.
Volgens die bedryfshoof van N3TC, Thania Dhoogra, is planne in plek om die vrye vloei van verkeer te verseker te midde van die verwagte toename.
“Met die skoolvakansie en Paasnaweek wat saam tot ’n einde kom, verwag ons dat verkeer op die N3-tolpad Maandag aansienlik sal toeneem. Dit kan moontlik tot Dinsdag voortduur, aangesien sommige ouers hul terugreis uitstel om die drukte op Paasmaandag te vermy,” het Dhoogra gesê.
Dhoogra het bygevoeg dat historiese verkeerspatrone daarop dui dat die pad besonder besig sal wees. ‘n Hoë volume voertuie word oor die volgende paar dae verwag.
Bron: SABC Nuus





