Met Nasionale Vrouedag om die draai, is dit die perfekte tyd om die indrukwekkende prestasies van Suid-Afrikaanse vroueatlete wat Suid-Afrika by die Paryse Olimpiese Spele verteenwoordig, te vier. Hierdie topatlete is nie net ‘n inspirasie vir die jeug nie, maar toon ook die onwrikbare gees en toewyding van Suid-Afrika se sportvroue.
Swem
Swemster Tatjana Smith (née Schoenmaker) het ‘n goue en ‘n silwermedalje in Parys losgeswem. Haar swemmaats by die Spele is Kaylene Corbett, Rebecca Meder, Aimee Canny en Erin Gallagher.
Langafstandatletiek
Drie vroueatlete verteenwoordig Suid-Afrika in die langafstande. Die vyfmalige rekordhouer, Gerda Steyn, sal ons vlag omhoog hou saam met medeatlete Irvette van Zyl en Cian Oldknow.
Hekkies
Marione Fourie hou die nasionale rekord vir 100 m hekkies. Sy hoop dus op ‘n finaal by die Spele in dié item. Saam met haar is 400 m-hekkiesatlete Rogail Joseph en Zeney Geldenhuys.
Middelafstand
Prudence Sekgodiso het haar plek in die 800 m-wedloop by die Olimpiese Spele verseker en is daarmee die tweede vinnigste Suid-Afrikaanse vrou in dié item. Caster Semenya is die eerste.
Kano
Tiffany Koch en Esti Olivier het ‘n spanningsvolle stryd by die SA Kampioenskappe by Victoriameer in Germiston gewen om hulle posisie by die Spele te verseker.
Spiesgooi
Jo-Ané van Dyk is ‘n viermalige nasionale kampioen en die 2024 All Africa Games-kampioen. Sy het onlangs ‘n 21 jaar oue USSA-rekord vir spiesgooi gebreek. Sy het ‘n indrukwekkende afstand van 62.70 m gegooi, wat die rekord wat deur die Suid-Afrikaanse Olimpiese silwermedaljewenner Sunette Viljoen opgestel is, gebreek het.
Pluimbal
Suid-Afrika se enigste verteenwoordiger in pluimbal, Johanita Scholtz, het haar plek by die Spele losgeslaan nadat sy haar titel as pluimbalkampioen in die vroue-enkelspel by die African Games in Maart verdedig het.
Fietsry
Vier vroulike atlete verteenwoordig Suid-Afrika in fietsry, wat ‘n aanduiding is van hoe die sport in SA groei. Hulle is Ashleigh Moolman-Pasio (pad), Tiffany Keep (pad), Candice Lill (MTB) en Miyanda Maseti (BMX).
Driekamp
Die Stellenbosse driekampatleet, Vicky van der Merwe, is die enigste vrou wat Suid-Afrika in dié dissipline by die Spele verteenwoordig het. Sy het reeds goud verower by die 13de African Games in Accra, Ghana, vanjaar. Sy het ook die 2024 Africa Triathlon Cup in Swakopmund, Namibië, gewen.
Elk van hierdie atlete verteenwoordig nie net hulself nie, maar die hele land, wat elkeen se pogings met groot opgewondenheid en trots sal volg. Hierdie vroue is nie net kampioene op die veld nie, maar ook rolmodelle vir toekomstige atlete.