Die Suid-Afrikaanse komediant Schalk Bezuidenhout het met sy kenmerkende humor behoorlik ingeklim onder Wêreldrugby oor Springbokafrigter Rassie Erasmus se skorsing van ses wedstryde. Volgens hom verstaan die internasionale rugbybase eenvoudig nie hoe Suid-Afrikaners werk nie.
In ’n humoristiese video spreek Bezuidenhout sy ongeloof uit oor die straf wat Erasmus opgelê is nadat hy kritiek op wedstrydbeamptes gelewer het.
“I can’t believe Rassie Erasmus must miss six games, mense!” sê hy ontsteld.
Volgens Bezuidenhout sou ’n boete dalk nog sin gemaak het, maar om die Springbokafrigter vir ses wedstryde te skors, gaan vir hom heeltemal te ver.
Schalk Bezuidenhout oor vryheid van spraak
Hy voer aan dat vryheid van spraak diep in Suid-Afrikaners se demokratiese kultuur gewortel is en dat mense hier nie sommer stilbly wanneer iets hulle ontstel nie.
“Without freedom of speech, South Africa is nothing,” sê Bezuidenhout.
Hy meen Suid-Afrikaners het nog altyd gesê wanneer iets hulle pla, veral as dit by rugby kom.
“If the other countries want to suffer in silence, that’s not our fault,” voeg hy tong-in-die-kies by.
“Eat your carrots, Manie”
Om sy punt te illustreer, verwys hy na die manier waarop Suid-Afrikaanse rugbyondersteuners ná ’n wedstryd op sosiale media reageer.
Volgens Bezuidenhout was ondersteuners ná Vrydagaand se wedstryd reeds besig om hulle frustrasie uit te spreek voordat die eindfluitjie behoorlik geblaas het.
Hy spot dat Manie Libbok skaars kans sou gehad het om ná die wedstryd in die kleedkamer sy selfoon aan te skakel voordat boodskappe ingestroom het.
Een van die grappige boodskappe wat hy as voorbeeld gebruik, lui: “Eat your carrots, Manie. It’s good for your eyes.”
Bezuidenhout sluit sy betoog af met die stelling dat Suid-Afrikaners eenvoudig nie daarvan hou om stil te bly wanneer hulle ongelukkig is nie.
“You can’t punish a South African for calling a spade a spade. That’s like punishing someone for being South African. It’s not fair!”
Sy uitlatings is duidelik met ’n stewige dosis humor bedoel, maar raak ook aan die groter debat oor waar die grens tussen vryheid van uitdrukking en die verantwoordelikheid van professionele rugbyafrigters lê.
Rassie se skorsing en SA Rugby se verhoor
Wêreldrugby het Erasmus op Dinsdag 17 November vir ses internasionale wedstryde geskors ná sy opmerkings oor die hantering van die Springbokke se wedstryd teen Frankryk. SA Rugby het intussen ’n volledige dissiplinêre verhoor aangevra.
Terwyl die rugbyowerhede die aangeleentheid deur formele prosesse hanteer, het Bezuidenhout sy eie, besonder Suid-Afrikaanse manier gevind om sy misnoeë uit te spreek.
En soos hy dit self stel: “Mense, if something upsets us, we say it!”