Hoe weet jy wanneer dit rooi ligte is?
Hoe weet jy wanneer iets tipiese tienergedrag is en wanneer dit ‘n rooi lig is? Hoe onderskei ‘n mens tussen erge depressie en blote dramatiek? Na watter tekens moet ‘n ouer uitkyk om te weet of jou tiener selfdood oorweeg?
Ouers is met reg bekommerd
Ouers is met reg bekommerd oor hulle kinders se emosionele en geestesgesondheid. Met goeie rede. Angs, depressie, selfdoodgedagtes en selfdood styg deurlopend, reg oor die wêreld.
Selfdood is die tweede grootste oorsaak van tieners se dood en die nommer een voorkombare oorsaak. (Motorongelukke is die grootste oorsaak.)
Vra die moeilike vrae
Wanneer jy praat met ouers wat ‘n tiener aan selfdood verloor het, is almal dit eens: “Vra die moeilike vrae.”
Baie ouers is bang dat praat oor selfdood die gedagte in die tiener se kop sal plant en vir hulle ‘n opsie gee waaraan hulle nog nie gedink het nie. Maar dit is ver van die waarheid. Kinders is heeltemal bewus van dié opsie. ‘n Skrikwekkende groot getal tieners het dit al oorweeg, en dié wat dit oorweeg raak al hoe jonger. In 2019 was daar 29 selfdoodgevalle onder kinders van 10 jaar en jonger.
Kinders wil nie soseer doodgaan nie, maar hulle is desperaat om die emosionele pyn te stop.
Hoë presteerders kry dit ook swaar
Ander ouers dink hulle kinders is reg, want hulle presteer akademies en is sportief. Maar niks hiervan dui aan dat jou kind se geestesgesondheid reg is nie. Dit is juis hoë presteerders wat dit die swaarste kry. Hulle steek dit net goed weg.
Ouers moet besef geen kind is immuun teen selfdoodgedagtes nie. Moenie wag tot jy spesifieke tekens sien nie. Moenie aanneem jou tiener toon net tipiese tienergedrag nie. Moenie die tienerfase as net ‘n moeilike fase afmaak nie.
Hoekom die gesprek nodig is
As jy ‘n tiener het, is dit noodsaaklik dat jy die moeilike vrae vra. As jy nie moeilike gesprekke aanvoer nie, sal hulle dink jy kan hulle nie help wanneer selfdoodgedagtes opduik nie.
Vrae wat jy kan vra
- Is jy reg? Waaroor bekommer jy jou?
- Het jy al daaraan gedink om jouself seer te maak? Hoe?
- Het jy al gedink om jouself dood te maak? Hoe? Het jy al ‘n plan gemaak?
- Word jy geboelie? Het jy al iemand geboelie?
- Is jy lief vir jouself? Voel jy geliefd? Voel jy gehoor?
- Wat wens jy ek verstaan beter van jou?
- Het jy iemand by wie jy gemaklik voel om oor jou gevoelens te praat?
- Hoe kan ek help?
Dit is moeilike vrae, want ons is bang vir die antwoorde wat ons mag hoor. Dit is makliker om sommige dinge net nie te weet nie, maar dit laat nie die probleem verdwyn nie. Dit maak dit erger.
Jou tiener het dalk nie die vrymoedigheid om oor moeilike goed te praat nie. Baie tieners voel skaam en wil nie ‘n ekstra las wees nie. Baie dink jy sal nie kan help nie. Maar hou aan vra. Moenie al die vrae op een slag vra nie, versprei hulle oor ‘n week of ‘n maand.
Wanneer ‘n antwoord jou laat skrik
Bly so kalm as moontlik. Bedank jou tiener dat sy of hy openlik praat. Gee jou tiener baie spasie om te praat en gevoelens te deel. Moenie probeer reg maak nie. Luister net en bevestig wat jy hoor. Gee jou tiener ‘n drukkie en sê op daardie oomblik hoe lief jy vir hom of haar is. Help met probleemoplossing en gesonde maniere om dinge te hanteer. Kry professionele hulp.
Die kern
Om die moeilike vrae te vra is ‘n groot voorkomende stap wat elke ouer kan neem.
Bron: Dr Cam.
Hulp is beskikbaar. Bel SADAG se hulplyn by 0800 567 567 of SMS 31393.
Meer oor Stefanie
Stefanie Minnaar is ‘n pastorale narratiewe terapeut en ‘n neuro-, loopbaan- en welstandsafrigter wat met tieners, studente en soms ouers werk. Sy help met graad nege se vakkeuses en met graad 11 en 12 se loopbaanbeplanning. Sy begelei ook tieners en jong volwassenes om hulle volle potensiaal op persoonlike en professionele vlak te bereik deur middel van lewensafrigting.
Sy is die trotse ma van ‘n 22-jarige dogter en ‘n seun wat in Augustus 21 word. Sy het self die tienerjare (net-net) oorleef om die storie te vertel.
Stefanie is die stigter van die Facebook-groep Ouer-Tiener Harmonie, waar sy onderwerpe op die tafel sit sodat ouers met mekaar kan skakel, raad kan gee en stories kan deel om mekaar deur die (soms) stormagtige tienerjare te help. Sluit gerus aan by die groep, of kontak Stefanie by [email protected].





