AFRIKA. – Kamele staan wêreldwyd bekend as die “skepe van die woestyn”, maar selfs hierdie geharde diere word nie gespaar van die uiterstes van stygende temperature in Afrika nie.
Die uithouvermoë van kamele in die hoë dagtemperature in woestyne, is alom bekend. Sy liggaamstemperatuur kan tot 40°C styg. Die kameel koel nie soos ander soogdiere af deur vog wat verdamp nie. Sy dik pels help hom teen hitte en koue beskerm. Die groot liggaamsoppervlakte wat in aanraking met die lug is, laat die dier verder afkoel. Tog kry dié diere deesdae swaar te midde van die versengende hitte.
Die Afar-streek in noordoos-Ethiopië is een van die warmste en droogste plekke op aarde. Hier lei nomades dikwels kameelkaravane wat sout deur die woestyn vervoer.
“Ek kan sien my kamele ly onder die versengende hitte,” het Ali Umer, ‘n kameelwagter van Semera in die Afar-streek, wat die afgelope maand agt kameelkalwers weens die hitte verloor het, aan die BBC gesê.
“Hulle pote kry blase, hul oë traan en die warm sand brand hul vel en skuur hul hare af wanneer hulle sit,” het Umer, wat sowat 500 kamele besit, gesê.
“Selfs die wind, wat vroeër koel lug gebring het, dra nou hitte aan,” het hy gesê.
Hy is nie die enigste wat die afgelope paar jaar hierdie drastiese veranderinge in temperatuur waargeneem het nie. Wetenskaplikes, dierewelsynswerkers en verskeie studies wys op stres, uitputting, dehidrasie en ‘n toename in siektes as regstreekse gevolge van uiterste hitte.
Die hoër temperature laat kamele ook indirek swaarkry deur ernstige watertekorte wat verlies aan plantegroei en ‘n afname in skaduplekke tot gevolg het.
Bronne: BBC, NDTV





