Branderplankryer en swemmer red seun uit see by Glen Beach, Kaapstad

Lees ook :

’n Seun is Saterdagmiddag per mediese helikopter van Glen Beach afgevoer ná ’n byna-verdrinking, nadat die strand ontruim is sodat die helikopter kon land. Sy toestand was teen druktyd onbekend.

Die voorval het omstreeks 14:00 plaasgevind. Hendrik Bredenkamp, ’n matriekleerling aan Hoërskool Jan van Riebeeck, vertel hy en sy vriende was besig om branderplank te ry, toe kinders na hulle toe gehardloop het en gesê het ’n seun verdrink.

Bredenkamp sê hy het aanvanklik gedink die seun dryf bloot uit see toe. Daar was geen lewensredders op die strand nie. Hy het op sy branderplank die see ingegaan, met ’n ander man wat agter hom geswem het.

Per toeval het die swemmer agter Bredenkamp onder die water teen die seun vasgeswem en sy kop met sy knie gekap. Hy het Bredenkamp geroep en het die seun opgetrek, wat bewusteloos was. “Dis die enigste manier hoe ons hom gevind het,” het Bredenkamp gesê. “Dit was regtig ’n wonderwerk.”

Die seun is deur Bredenkamp en die swemmer op Bredenkamp se branderplank uit die water gebring. Op die strand het talle mense ingespring om te help. Volgens Bredenkamp is KPR (kardiopulmonêre resussitasie) toegepas voordat die seun begin hoes en water opgebring het.

Nooddienste is ontbied, maar dit het sowat 20 minute geneem voordat ’n ambulans opgedaag het weens swaar verkeer in die gebied. Paramedici het die seun op ’n draagbaar geplaas en aanvanklik voorberei om hom per ambulans te vervoer. Weens die verkeersopeenhoping is die pasiënt egter terug strand toe gebring.

Die seun is op suurstof geplaas terwyl reëlings vir ’n mediese helikopter getref is. Die strand is ontruim sodat die helikopter kon land en die seun is ongeveer ’n uur en ’n half ná die voorval per helikopter na ’n hospitaal geneem.

Teen druktyd was dit nie bevestig of die seun die voorval oorleef het nie. Kommentaar is aangevra van die Nasionale Seereddingsinstituut en die Suid-Afrikaanse Polisiediens.

Kyk hoe die helikopter land:

Hier is die onderhoud met Hendrik Bredenkamp:

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Subscribe
Notify of
guest
0 Comments
Oldest
Newest Most Voted
Inline Feedbacks
View all comments

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief