VRYSTAAT. – Die polisie in die Thabo Mofutsanyana-distrik waarsku ouers en voogde om kinders teen verdrinking te beskerm nadat twee mense onlangs in afsonderlike voorvalle verdrink het en duikers hul liggame in die QwaQwa- en Clocolan-omgewings gevind het. Die soektog na ’n 17-jarige seun wat na bewering in Lindley verdrink het, duur voort. Die polisie waarsku dat kinders en jongmense dikwels die gevare van riviere en damme onderskat, veral tydens warm weer wanneer hulle in die water afkoel.
AO Mmako Mophiring van die Thabo Mofutsanyana-distrik se kommunikasie- en skakelafdeling sê sommige kinders besoek riviere om te gaan visvang, maar gaan later die water in om af te koel. Sterk strome, onbekende dieptes en ander onderwatergevare kan selfs in water wat kalm lyk, lewensgevaarlik wees.
Met die aanvang van die polisie se Veiliger Feesseisoen-operasies word ’n beroep op ouers gedoen om te weet waar hul kinders is, toesig oor hul aktiwiteite te hou en hulle te waarsku om nie in onbekende of onveilige water te swem nie. Kinders wat nie kan swem nie, moet dit nooit in riviere of damme waag nie. Gemeenskappe word ook versoek om gevaarlike swempraktyke te ontmoedig en noodgevalle onmiddellik aan te meld sodat reddingsdienste kan optree.