KWAZULU-NATAL. – ‘n 9-jarige seun is dood nadat hy vermoedelik in ’n dam naby Laerskool Bongimfundo, in Zinkwazi aan die Noordkus, verdrink het.
Samantha Meyrick, woordvoerder van IPSS Medical Rescue, sê reddingsdienste is Sondagoggend na die toneel ontbied, nadat die kind vermis geraak het. Die seun het glo Saterdagaand saam met ’n buurkind naby ’n dam gespeel toe hy in die water beland het. Toe hy nie later huis toe terugkeer nie, het die ander kind die familie ingelig. ’n Soektog is deur die nag voortgesit. Die seun se liggaam is uiteindelik omstreeks 04:00 Sondagoggend uit die water gehaal. Hy is op die toneel dood verklaar.
Reddingsdienste het hul simpatie met die familie, vriende en die gemeenskap uitgespreek. Owerhede ondersoek die omstandighede van die voorval.






