Slegs 18% van die kandidate wat die Wes-Kaap se nuwe aanlyn-leerlinglisensietoets aflê, slaag die eksamen.
Dit is volgens inligting wat die Wes-Kaapse minister van mobiliteit, Isaac Sileku, in antwoord op ’n geskrewe vraag van die VF Plus bekend gemaak het.
Sedert die aanlynstelsel op 26 Mei 2025 ingestel is, is 142 100 leerlinglisensietoetse in die provinsie afgelê. Gemiddeld slaag minder as twee uit elke tien kandidate die toets.
Grant Marais, VF Plus-lid van die Wes-Kaapse parlement, sê die party is bekommerd oor die buitengewoon lae slaagsyfer.
Volgens hom ontvang die party klagtes dat sommige van die vrae swak verwoord en moeilik verstaanbaar is, selfs vir mense wat goed vertroud is met die padreëls.
“Dit wek die vraag of kandidate druip weens ’n gebrek aan kennis van die verkeersreëls, of omdat hulle sukkel om die bewoording en vertaalde vrae te verstaan,” sê Marais.
Die aanlyntoets is in al elf amptelike tale beskikbaar. Volgens die VF Plus het die departement egter bevestig dat geen taalvaardigheidstoets op die inhoud uitgevoer is voordat die stelsel amptelik bekend gestel is nie.
Marais sê dit is veral kommerwekkend omdat die verkryging van ’n bestuurderslisensie vir baie jong mense ’n belangrike stap is om toegang tot werksgeleenthede te kry.
“Vir baie jong mense is die verkryging van ’n bestuurderslisensie ’n noodsaaklike eerste stap om toegang tot die arbeidsmark te kry. Hierdie stelsel het nou egter ’n struikelblok geword om ’n lisensie te bekom.”
Die VF Plus het die Wes-Kaapse regering en die provinsiale departement van mobiliteit versoek om ’n proeflopie of oefentoets aan kandidate beskikbaar te stel voordat hulle die formele eksamen aflê.
Só ’n oefentoets sal kandidate volgens die party die geleentheid bied om vertroud te raak met die aanlynstelsel, die manier waarop vrae gestel word beter te verstaan en die amptelike toets met groter selfvertroue af te lê.
Marais sê dit sal regverdigheid bevorder en die integriteit van die eksamen beskerm terwyl die stelsel verder hersien word.
“Jong mense verdien ’n stelsel wat regverdig en betroubaar is en wat hul kennis van die verkeersreëls toets – nie een wat ontwerp is om hulle te laat druip nie,” sê hy.
Nuusflits het vrae aan die departement gestuur. Dit sal bygewerk word sodra die departement reageer.





