Brekende Nuus
Nuus

Man verdrink terwyl hy seun by Wildernis-strand probeer red

Foto: Ter illustrasie

WES-KAAP. – ’n Man is Saterdag dood nadat hy in die see by Leentjiesklip-strand by die Wildernis in ’n reddingspoging betrokke was toe twee tieners deur sterk seestrome meegesleur is.

Die nasionale seereddingsinstituut (NSRI) is omstreeks 17:30 ontbied, nadat berigte ontvang is dat mense besig was om te verdrink. Craig Lambinon, NSRI-woordvoerder, sê volgens Jonathan Britton, stasiebevelvoerder van die NSRI in Wildernis, het twee pa’s die water ingegaan om hul seuns te help. Een van die tieners, ’n 14-jarige Duitse seun, kon self die strand bereik.

Reddingspanne het die ander tiener, ’n plaaslike seun, en sy Duitse pa uit die water gered. Die plaaslike pa is bewusteloos in die water gevind en na die strand gebring, waar noodhulpwerkers met hart-long-resussitasie (KPR) begin het. Ondanks uitgebreide pogings kon sy lewe nie gered word nie.

Die oorlewende pa en die twee tieners is per ambulans hospitaal toe geneem en herstel onder mediese sorg. Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen.