WES-KAAP. – ‘n Soektog na vyf vermiste bemanningslede duur voort, nadat die Nigeriese sleepboot MW LEO sowat 80 seemyl suid van Mosselbaai gesink het. Een bemanningslid is dood. Die vaartuig het herstelwerk in Durban ondergaan en was onderweg terug na Lagos met 18 bemanningslede, almal Nigeriese burgers.
Die boot het Saterdagaand ’n noodsein uitgestuur dat dit water inneem voordat dit Sondag vroeg gesink het.
‘n Soek- en reddingsoperasie word deur die South African Maritime Safety Authority (SAMSA), sowel as die Maritime Rescue Coordination Centre Cape Town en die South African Search and Rescue (SASAR) gekoördineer. Twaalf bemanningslede is veilig gered en vir ondersoeke na mediese fasiliteite geneem. Nigeriese diplomate en amptenare is in kennis gestel en verleen bystand. Owerhede het hul medelye met die familie van die oorledene betuig. Die Nigeriese Hoë Kommissariaat word deurlopend op hoogte gehou van verwikkelinge.
Barbara Creecy, die minister van vervoer, en Mkhuleko Hlengwa, die adjunkminister van vervoer, het medelye betuig met die afsterwe van die bemanningslid van die MW Leo wat onder die vlag van die Comore-eilande geregistreer is. Volgens die departement van vervoer het Creecy en Hlengwa die dringendheid beklemtoon om die vermiste bemanningslede op te spoor. Hulle het ook hul ondersteuning uitgespreek aan die families van diegene wat steeds op see vermis word.
Die skip behoort aan die Nigeriese maatskappy Magnet Energy Limited, wat in Lagos gebaseer is.
Druk hier om meer te lees.

Bronne: Marine Insight, Marine News Magazine, Departement van Vervoer en SA Government News





