Die Springbok-vroue het hul span aangekondig vir Vrydag se openingswedstryd van die WXV Global Series teen Wallis op Cardiff Arms Park, met Maria Tshiremba, Felicia Jacobs en Logan Welman wat almal in die beginspan ingesluit is.
Die afskop is om 20:00 Suid-Afrikaanse tyd.
Welman begin op agtsteman en ruil plek met Aseza Hele, wat van die plaasvervangersbank af sal speel. Dit is die enigste verandering aan die beginpak wat twee weke gelede teen die Black Ferns in Johannesburg gespeel het.
Daar is meer veranderinge agterlangs. Jacobs en Tshiremba keer terug na die beginspan nadat hulle nie in die wedstryd teen die Black Ferns gespeel het nie.
Tshiremba het verlede maand ‘n driekuns op haar toetsdebuut teen Fidji gedruk.
Maceala Samboya behou die buitesentertrui nadat sy teen die Black Ferns van die bank af vir die beseerde Zintle Mpupha vervang het. Sy vorm die senterpaar saam met Aphiwe Ngwevu.
Springbok-vroue bou reeds na 2029
Franzel September, mede-afrigter van die Springbok-vroue, sê die veranderinge vorm deel van die span se plan om groter diepte te ontwikkel en meer spelers geleenthede te gee om op toetsvlak te begin.
“Ons is reeds goed op pad na die 2029-Wêreldbeker vir vroue, nie net met ons beplanning nie, maar ook deur spelers ervaring op die hoogste vlak te gee – iets wat hierdie WXV Global Series sal bied,” het September gesê.
Volgens hom is die openingswedstryd belangrik om die toon vir die oorblywende twee wedstryde te bepaal.
September verwag veral ‘n groot stryd tussen die twee spanne se voorspelers.
“Dit gaan groot wees in die vaste fasette, aangesien albei spanne sterk in dié afdeling is. Ek is tevrede met ons vordering in dié deel van ons spel in die agt wedstryde wat ons vanjaar gespeel het, maar ons weet Wallis gaan hier in Cardiff ander vrae vra.”
Latsha lei die span
Babalwa Latsha, wat in 2018 haar toetsdebuut op Cardiff Arms Park gemaak het, sal weer die Springbok-vroue aanvoer. Libbie Janse van Rensburg is die onderkaptein.
Latsha is reeds die Springbok-vroue se mees ervare vaskopstut, terwyl Lindelwa Gwala die mees ervare haker is sedert Suid-Afrika se eerste vrouetoets in 2004 – ook teen Wallis.
Ngwevu het meer toetse op binnesenter gespeel as enige ander Springbok-vrou, terwyl Janse van Rensburg haar toetsrekord van 221 punte verder kan verbeter.
Tshiremba, Patience Mokone en Welman sal intussen vir die eerste keer aan ‘n WXV-veldtog deelneem.
Springbok-vroue se span
Beginspan: 15 Byrhandré Dolf, 14 Maria Tshiremba, 13 Maceala Samboya, 12 Aphiwe Ngwevu, 11 Ayanda Malinga, 10 Libbie Janse van Rensburg, 9 Felicia Jacobs, 8 Logan Welman, 7 Catha Jacobs, 6 Sizophila Solontsi, 5 Danelle Lochner, 4 Vainah Ubisi, 3 Babalwa Latsha (kaptein), 2 Lindelwa Gwala, 1 Sanelisiwe Charlie.
Plaasvervangers: 16 Micke Gunter, 17 Xoliswa Khuzwayo, 18 Nombuyekezo Mdliki, 19 Nomsa Mokwai, 20 Aseza Hele, 21 Sinelitha Noxeke, 22 Jakkie Cilliers, 23 Patience Mokone.
Die wedstryd is die eerste tussen Suid-Afrika en Wallis sedert 2021.
Bron: SA Rugby Communications