Alle rugby-oë is vandag op Orlando gerig waar die Springbokke en All Blacks in die derde toets van hul Rugby’s Greatest Rivalry-reeks teen mekaar te staan kom.
Die kragmeting by die FNB-stadion – Suid-Afrika se ikoniese “Calabash” – begin om 17:00 en daar is meer as net ’n reeksoorwinning op die spel.
Die Springbokke het naamlik nie goeie herinneringe aan hul vorige wedstryde teen die All Blacks by dié stadion nie. Hulle het op albei vorige geleenthede hier teen Nieu-Seeland verloor en sal vandag probeer om dié ongelukkige rekord finaal te breek.
Die reeks staan tans gelykop met een oorwinning elk, wat beteken dat vandag se wedstryd ’n enorme invloed sal hê op wie volgende week met die voordeel na die laaste toets in Baltimore vertrek.
Een van die interessante elemente voor die wedstryd is die verskil in benadering tussen die twee spanne.
Die All Blacks het verskeie veranderinge gemaak, met nuwe gesigte wat veral in die voorste vyf ’n geleentheid kry. Die Springbokke het daarenteen grootliks by dieselfde kombinasies gehou, met slegs enkele veranderinge wat deur beserings genoodsaak is.
Daardie kontinuïteit kan ’n belangrike voordeel vir Suid-Afrika wees.
Die Bokke het in die eerste twee wedstryde gewys dat hulle vinnig uit die blokke kan kom en sal waarskynlik weer probeer om vroeg druk op die All Blacks te plaas en ’n voorsprong op te bou.
Die groter vraag is egter of hulle dié intensiteit vir die volle 80 minute kan handhaaf.
In albei die vorige toetse het Nieu-Seeland sterker in die tweede helfte afgesluit, terwyl die Springbokke se spel ietwat van sy momentum verloor het. Dit is ’n aspek wat die Bokke beslis vandag sal wil regstel.
Die weer kan ook ’n groot rol speel.
Storms en reën is vir dele van Gauteng voorspel en die toestande rondom afskoptyd kan ’n invloed hê op beide spanne se taktiek, veral indien die veld nat en die bal glad is.
Vir die Springbokke is daar egter ook die voordeel van ’n massiewe tuisskare en die besondere atmosfeer wat FNB-stadion kan lewer.
Dit is hul laaste wedstryd op Suid-Afrikaanse bodem vanjaar en die Bokke sal desperaat wees om dit met ’n oorwinning af te sluit.
Nou moet hulle net die “Calabash-vloek” teen die All Blacks breek.
Alle oë is vanmiddag om 17:00 op Orlando.