KWAZULU-NATAL. – ’n Skooltaxi met sowat 21 leerlinge het vanoggend (Maandag) omstreeks 08:00 vyf meter na benede van die Stoffelton-padbrug in die Impendle-omgewing in ‘n rivierbedding beland.
Craig Botha van KwaZulu Private Amulance Service sê die ongeluk het ‘n volskaalse reddingsoperasie deur die gemeenskap veroorsaak, voordat nooddienste opgedaag het. Die passasiers, leerlinge tussen agt en 15 jaar oud, het ligte tot ernstige beserings opgedoen, maar almal het die ongeluk oorleef. Die leerlinge is daarna na hospitale vervoer vir verdere mediese ondersoeke en behandeling.
Nooddienste het die samewerking tussen gemeenskapslede, kliniekpersoneel en paramedici geprys. Intussen is ‘n ondersoek van stapel gestuur om die oorsaak van die ongeluk vas te stel. Die Stoffelton-pad bly oop, maar motoriste word gewaarsku dat daar weens ondersoekwerk moontlike vertragings kan wees.