UMHLANGA. – ’n Taxibestuurder is Saterdag dood nadat sy Toyota Quantum agter in ’n DSW-vullistrok op die M41 in Umhlanga, KwaZulu-Natal, vasgery het.
Volgens Reaction Unit South Africa (Rusa) het sy operasiesentrum omstreeks 10:40 verskeie oproepe oor die ongeluk ontvang. Reaksiebeamptes en paramedici is na die toneel gestuur.
Die taxibestuurder het volgens Rusa geen tekens van lewe getoon nie en is op die toneel dood verklaar.
Die insittendes van die vullistrok is nie beseer nie. Albei voertuie was volgens Rusa in dieselfde rigting onderweg toe die botsing plaasgevind het.
Die omstandighede wat tot die botsing gelei het, is nog nie bevestig nie.
Twee bane is ná die ongeluk gesluit, wat verkeersvloei in die gebied beïnvloed het.
Bron: Reaction Unit South Africa