Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) en die departement van water en sanitasie het ‘n nuwe watersektor-teenkorrupsieforum bekend gestel om kurrupsie in die land se watersektor te bekamp en beter toesig oor waterbestuur te verseker.
Leonard Lekgetho, waarnemende hoof van die SOE, sê die forum is gestig ná bevindings uit 16 SOE-proklamasies wat met die departement verband hou. Nege ondersoeke is reeds afgehandel terwyl sewe nog aan die gang is, wat volgens hom die behoefte aan ’n gekoördineerde poging teen korrupsie in die sektor beklemtoon. Die forum fokus op ondersoeke, voorkoming en wetstoepassing om korrupsie en wanbestuur te bekamp. Die inisiatief vorm deel van pilaar ses van die nasionale teenkorrupsiestrategie, wat daarop gemik is om kwesbare sektore te beskerm en integriteitstelsels te versterk. Die forum beoog om praktiese oplossings te ontwikkel om korrupsierisiko’s in die watersektor aan te spreek en samewerking tussen verskeie rolspelers te bevorder. Dit sluit onder meer wetstoepassingsagentskappe, burgerlike organisasies, die privaat sektor, regeringsinstellings, munisipaliteite en omgewingsgroepe in. Volgens Lekgetho is die forum ’n belangrike stap om ’n kritieke hulpbron te beskerm. Hy sê water raak elke mens en daarom moet die stryd teen korrupsie in die sektor ’n gesamentlike poging wees. Hy het bygevoeg dat korrupsie in die sektor dienslewering bedreig en die welstand van gemeenskappe benadeel.
Pemmy Majodina, die minister van water en sanitasie, het beklemtoon dat korrupsie in die watersektor verreikende gevolge het. Volgens haar lei korrupsie nie net tot onreëlmatige verkrygingsprosesse nie, maar kan dit ook infrastruktuurontwikkeling vertraag, riviere besoedel en openbare vertroue ondermyn. Sy sê in ’n waterarm land soos Suid-Afrika is korrupsie in die sektor ’n direkte bedreiging vir ontwikkeling en menswaardigheid, aangesien geld wat deur korrupsie verlore gaan, eerder gebruik kon word om waterlekkasies te herstel, voorsieningskemas uit te brei en varswaterekosisteme te beskerm.
Druk hier om meer te lees.




