VRYSTAAT. – Die Kroonstad-polisie het ’n soektog van stapel gestuur nadat 43 vuurwapens Maandagoggend kort voor 01:00 tydens ’n inbraak by die Moqhaka Parks- plaaslike munisipale gebou gesteel is.
Volgens sers. Mahlomola Kareli van die polisie en Dika Kheswa van die munisipaliteit het ‘n werknemer wat die oggend by die werk opgedaag het eers gesien die beheerboks wat die alarms beheer, is beskadig, waarna die inbraak ontdek is. Booswigte het glo die vuurwapen-bergingsfasiliteit met ‘n slypmasjien oopforseer. Binne die bergingsfasiliteit is twee kluise oopgeslyp en ’n groot hoeveelheid vuurwapens en ammunisie gesteel. Dit sluit sowat 43 vuurwapens, onder meer 9 mm-pistole, rewolwers en pompaksie-haelgewere, asook ongeveer 1 105 rondtes ammunisie en ses koeëlvaste baadjies in.
Die polisie sê die verdagtes het waarskynlik toegang verkry deur ’n muur naby ’n badkamer oop te breek. ‘n Sake-inbraak is geregistreer en die ondersoek duur voort.
Geen arrestasies is nog gemaak nie. Die polisie vra die publiek se hulp om die verdagtes op te spoor en die gesteelde wapens terug te vind.





