GAUTENG. – Neil Klein (47) is deur die Pretoria-Noord-landdroshof tot 15 jaar tronk gevonnis vir die verkragting van ’n man (32) en vyf jaar vir die poging tot verkragting van ’n man (43). Die voorvalle het by ‘n skuiling in Akasia, noord van Pretoria, plaasgevind.
Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, sê die 43-jarige slagoffer het op 9 Julie 2023 vir Klein in ‘n badkamer teëgekom. Klein het hom gedreig en die deur gesluit, maar die voorval is stopgesit toe iemand aan die deur geklop het. Vier maande later, op 5 November 2023, het die 32-jarige slagoffer dieselfde ervaring gehad waartydens Klein hom gedwing het om uit te trek en hom verkrag. Die slagoffers het die voorvalle by die skuiling se personeel en later by die polisie aangemeld. Klein is in hegtenis geneem.
Klein het onskuldig gepleit en gesê die 43-jarige slagoffer het hom valslik beskuldig oor geld, maar die staat het oortuigende getuienis voorgehou, insluitend die getuienis van beide slagoffers. Tydens die vonnispleging het Klein se regsverteenwoordiger versoek om die minimum vonnis te verminder, met verwysing na sy moeilike kinderjare, beperkte opleiding weens epilepsie en tyd wat hy op straat deurgebring het. Die hof het egter bevind dat Klein ernstig misdrywe gepleeg het, geen berou getoon het nie en weerlose mans geteiken het. Die landdros het gesê manlike slagoffers sukkel dikwels om seksuele misdade aan te meld, wat verduidelik waarom die 43-jarige aanvanklik stilgebly het. Daar is bevind dat daar geen wesenlike redes bestaan om van die minimum vonnis af te wyk nie.
Klein is vir beide misdade 20 jaar tronkstraf opgelê en hy is onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit. Die NVG sê hulle sal voortgaan om seksuele misdade te vervolg en kwesbare mense te beskerm.





