GAUTENG. – Twee mense is Sondagoggend dood toe ’n brand die kelder van die De Williershof-woonstelblok in Sunnyside verwoes het.
Nana Radebe-Kgiba, woordvoerder vir die Stad Tshwane se nooddienste, sê in ‘n verklaring die eerste brand is omstreeks 01:15 in blok 2 van die gebou aangemeld, waar sewe kamers op die grondvloer uitgebrand het. Geen beserings is daar aangemeld nie. Net ná 04:00 is ’n tweede brand in blok 1 aangemeld, waar die kelder in vlamme was.
Brandbestryders van Sentraal- en Hatfield het die brand bestry en daarna ’n soektog begin. Twee liggame is in die kelder, wat deur inwoners as woonruimte ingerig is, ontdek. Volgens die owerhede het die slagoffers aan rookinaseming gesterf.
Brandveiligheidsbeamptes gaan ondersoek instel om die oorsaak van die brand te bepaal.
Inwoners word versoek om enige brand of noodgeval onmiddellik by 107 of by 012 358 6300/6400 aan te meld.