NOORDWES. – Twee verdagtes is in hegtenis geneem ná die gewelddadige plaasaanval op Donovan Marx (50) in Syferfontein naby Ventersdorp, waartydens hy geskiet en sy ore afgesny is.
Die aanval het Woensdag 28 Oktober 2026 plaasgevind. Die inhegtenisnemings volg ná ’n intensiewe ondersoek deur die Ventersdorp-polisie.
Die provinsiale polisiekommissaris van Noordwes, lt.genl. Peter Adams, het Saterdagaand die inhegtenisnemings verwelkom en die ondersoekspan geloof vir hul vinnige optrede.
Die polisie het nog nie die verdagtes se identiteit bekend gemaak nie. Hulle sal na verwagting Maandag in die Ventersdorp-landdroshof verskyn. Daar word nog na ‘n derde verdagte gesoek.
Nuusflits het vroeër berig dat Marx ná die aanval geopereer is en in ’n stabiele toestand verkeer.
Die aanval het groot ontsteltenis ontlok nadat besonderhede bekend geword het oor die ernstige beserings wat hy opgedoen het.
Bronne: Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD)