Vandag is links eintlik die regte kant

Lees ook :

Foto: Canva

Vandag 13 Augustus behoort die linkshandiges vir ‘n slag nie diegene te wees wat moet aanpas nie. Dit is Internasionale Linkshandigesdag – ‘n dag vir die sowat een uit elke tien mense vir wie links eintlik die regte kant is. Die dag het sy oorsprong by Dean R. Campbell, wat 13 Augustus in 1976 tot die eerste Linkshandigesdag verklaar het.

As jy deesdae na ‘n sportwedstryd kyk, kan dit dalk voorkom asof daar baie meer van hulle is. In tennis, krieket, bofbal en sommige ander sportsoorte kan ‘n linkshandige speler selfs ‘n taktiese voordeel hê, omdat opponente minder gereeld teen linkshandiges speel en dus minder gewoond is aan hul bewegings en hoeke. Navorsing oor professionele manstennis het byvoorbeeld bevind dat linkshandiges ongeveer 15% van die top-100-spelers oor ‘n lang tydperk uitgemaak het. Rafael Nadal, John McEnroe en Martina Navratilova is bekende tennissterre wat die raket met die hotklou geswaai het.

Suid-Afrika het natuurlik ook sy deel van bekende lefties. In krieket is daar onder meer Graeme Smith en Quinton de Kock, twee van Suid-Afrika se bekendste linkshandige kolwers. Keshav Maharaj is nog ‘n interessante geval – hy kolf links, maar boul met sy linkerarm as ‘n orthodokse draaibouer. En dan is daar die legendariese Gary Kirsten, wat ook links gekolf het.

In gholf is Garrick Higgo ‘n besonder interessante voorbeeld. Hy speel linkshandig, hoewel hy van nature regshandig is. Hy het as jong kind begin gholf speel en het later een van Suid-Afrika se suksesvolste jong professionele gholfspelers geword.

Internasionaal is die lys van bekende linkshandiges indrukwekkend. Barack Obama,, Bill Clinton, Mahatma Gandhi, Napoleon Bonaparte, Pablo Picasso, Isaac Newton, Oprah – om net ‘n paar te noem.  

En vir die linkshandige kind wat vandag met ‘n skêr, skoolbank, blikopmaker of ander voorwerp sukkel wat duidelik vir regshandiges ontwerp is, is die dag dalk minder oor beroemde linkshandiges en meer oor een eenvoudige wens: Kan die wêreld asseblief net soms ook van links af dink?

Bronne: Wikipedia, National Today

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief