FRANKRYK. – Veldbrande woed steeds oor uitgestrekte gebiede in Suidwes-Europa en het Frankryk en Spanje gedwing om meer as 325 000 mense uit hul huise te ontruim.
Al Jazeera berig van die ergste brande in Frankryk sedert die Tweede Wêreldoorlog volg slegs weke nadat Europa onder van die ergste hittegolwe ooit gesteier het. Owerhede het duisende brandbestryders ontplooi om die vlamme te bestry.
Volgens owerhede is sowat 220 000 mense uit hul huise in Frankryk ontruim, ongeveer 100 000 in Spanje, terwyl nog sowat 30 000 mense daar opdrag gekry het om in hul huise te bly.
Die situasie bly kritiek, met Frankryk wat hom gereed maak vir ‘n vierde groot hittegolf wat nóg brande kan aanwakker.
Volgens die British Royal Meteorological Society word die situasie vererger deur donderwolke wat “deur die intense hitte van die aardoppervlak gevorm word”. Hierdie wolke kan toestande vir brandbestryders byna onhanteerbaar maak.
‘n Woordvoerder van Frankryk se Nasionale Federasie van Brandbestryders (FNSPF) het aan die AFP-nuusagentskap gesê: “Ons het ‘n punt van ‘operasionele onmoontlikheid’ bereik wat vereis dat ons die noodsaaklikheid van ‘n strategiese onttrekking aanvaar – dat ons ‘n natuurkrag buite ons beheer moet verstaan en erken.”
Spaanse en Franse owerhede sê brandbestryders alleen kan nie die inferno onder beheer bring nie en het ‘n beroep op internasionale hulp gedoen.
Bronne: Al Jazeera, NPR, British Royal Meteorological Society





