Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) het aangekondig dat die vrywaringsvorm, asook ‘n verifikasievorm wat onlangs by Tafelberg Nasionale Park vereis is, met onmiddellike ingang nie meer van toepassing is nie.
In ‘n sosialemediaplasing is gesê die vorm was aanvanklik ingestel om beheer- en verifikasiestelsels te verbeter, maar het tot lang wagtye en ontevredenheid onder besoekers gelei. SANParke sê hulle het die terugvoer van die publiek en die toerismebedryf in ag geneem en besluit om die proses te heroorweeg. In die komende jaar beplan SANParke om ’n nuwe, volledig digitale stelsel vir ID- en paspoortverifikasie by parkhekke in te stel. Die tegnologie sal vinniger skandering moontlik maak en moet help om ’n meer doeltreffende en gebruikersvriendelike toegang tot die park te verseker.
Intussen sal besoekers die park kan betree sonder om die vrywaringsvorm te voltooi.





