MPUMALANGA. – Weerlig het Vrydag chaos veroorsaak toe dit by God’s Window, toeriste-aantreklikheid in die Laeveld, ‘n kind raak geslaan en minstens 15 voertuie getref het. Ooggetuies het van hulle ondervinding vertel.
David Molemo Radebe, die eienaar van RunTravel, sê in ‘n sosialemediaplasing hulle het net uit die reënwoud gekom toe dit begin reën. Hy sê voorts ‘n kind is getref, asook minstens 15 motors. Daar was gate in die grond en ‘n Ford Ranger het aan die brand geslaan. Meer as 10 voertuie se bande het glo gebars. Radebe sê hulle motor is gelukkig nie geraak nie en binne vyf minute was die lug weer helder, asof ‘n storm nooit uitgebreek het nie.
“Die natuur is werklik iets besonders.”
In kommentaar op Radebe se plasing het Yolande Everton de Klerk die volgende gesê: “Ons was ook gister daar saam met ons vriende. Ons was op pad af na die voertuie toe met die kinders om skuiling te kry teen die reën.
Ons kon nie by die bakkie uitkom nie, net by een van die stalletjies. Ons het onder die sinkdak van die stalletjie gestaan toe die weerlig geslaan het. My man het op die grond geval en sy kop en ore vasgehou. Hy was baie verward en deurmekaar op daardie oomblik. Die kinders het histeries geskree en ek het na die bakkie gehardloop omdat ons nie geweet het waar ons vriende is nie, en ons moes daar wegkom na ’n veilige plek toe.
Toe ek die bakkie parkeer om die kinders en my man in te laai, het ons vriende aangestap gekom na die bakkie toe. Ek het gesê ons moet ry – my man is deur die weerlig getref. Hulle het gesê dieselfde het met hulle gebeur – hulle was op die laaste trappies voordat hulle by die pad afkom waar die stalletjies is.
Hulle sê alles was net wit, en toe het hulle geval. My vriendin se man was ook vir ’n paar sekondes bewusteloos en kon nie dadelik weer opstaan nie.
Dit was só ongelooflik skrikwekkend.”





