GAUTENG. – Polisiebeamptes verbonde aan die Tshwane-voertuigmisdaadeenheid het Vrydag tydens patrollie op die R80 in Rosslyn, noord van Pretoria, ‘n verdagte voertuig onderskep en ‘n man gered wat glo dieselfde dag in Wonderboompoort ontvoer is. Daar is onder meer op ‘n AK-47 en ‘n groot hoeveelheid lewendige ammunisie beslag gelê.
Lt.kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die beamptes het ‘n wit Golf 7 met vyf insittendes opgemerk. Die voertuig is tot stilstand gebring en ‘n geboeide man van wie die gesig bedek is, is binne-in aangetref. Die man het tydens ondervraging gesê hy is vroeër die dag in Wonderboompoort ontvoer toe hy glo deur ’n voertuig met blou ligte en ’n sirene tot stilstand gedwing is.
Buiten die aanvalsgeweer en ammunisie is blou ligte, kabelbinders, ’n sirene en T-hemde met die polisie-embleem in die voertuig gevind. Vier verdagtes is in hegtenis geneem en van ontvoering, die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie, asook die nabootsing van ’n polisielid, aangekla. ’n Ondersoek is aan die gang om vas te stel of die verdagtes moontlik met ander ernstige en gewelddadige misdade verbind kan word.
Die verdagtes sal vandag in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn.





