Woolworths moet twee stellings oor dierewelsyn op sy webwerf wysig nadat die finale appèlkomitee van die Advertensie-reguleringsraad (ARB) bevind het dat die bewoording verbruikers waarskynlik kan mislei.
Die komitee het op 11 November uitspraak gelewer ná ’n klagte deur die verbruiker Emma Russell oor Woolworths se advertensies en die gebruik van koolstofdioksiedgas om varke in sy verskaffingsketting voor slagting te verdoof.
Animal Law Reform South Africa (ALRSA), wat Russell tydens die appèlproses ondersteun het, het die uitspraak in ’n mediaverklaring verwelkom. Die organisasie het ook die volledige uitspraak beskikbaar gestel.
Twee stellings moet gewysig word
Die komitee het bevind dat ’n stelling waarin Woolworths sê hy is verbind tot boerdery wat nie mense, diere of die omgewing benadeel nie, die indruk skep dat geen skade tans aan diere aangerig word nie.
Volgens die uitspraak het Woolworths self aangevoer dat hy daarna streef om lyding te verminder, eerder as dat geen skade plaasvind nie. Die maatskappy moet die bewoording dus wysig om na die vermindering van skade te verwys.
Die komitee het ook ’n tweede stelling oor die sogenaamde Vyf Vryhede van dierewelsyn oorweeg. Hy het aanvaar dat Woolworths daarna kan streef om dié ideale na te kom, maar bevind dat die stelling as geheel die indruk kon skep dat die standaard reeds bereik is.
Woolworths moet nou duidelik maak dat die Vyf Vryhede ’n doelwit is en dat ander stellings in dieselfde gedeelte nie suggereer dat die standaard reeds bereik is nie.
Wat die Woolworths ARB-uitspraak nie beslis nie
Die uitspraak bevestig dat dit nie betwis is nie dat Molare, ’n abattoir in Woolworths se varkvleisverskaffingsketting, koolstofdioksied gebruik om varke voor slagting te verdoof.
Die komitee het beklemtoon dat sy beslissing oor die advertensie-eise handel en dat dit nie binne sy bevoegdheid val om te besluit watter verdowingsmetode verkieslik is nie. Woolworths is nie beveel om die gebruik van die gas te staak nie.
Die oorspronklike klagte en ’n eerste appèl is vroeër vanjaar van die hand gewys. Die finale appèlkomitee het die appèl gedeeltelik gehandhaaf en die vorige appèluitspraak tersyde gestel waar dit met die nuwe beslissing verskil.
Nuusflits het Woolworths om kommentaar oor die uitspraak en die gebruik van koolstofdioksied in sy verskaffingsketting gevra.