Waldo Verwey (10) van Casseldale, Springs, is Donderdagaand in die kop geskiet toe hulle hulle honde in die erf uitgeneem het. Waldo word as ondeund, met die mooiste hartjie en lief vir diere, beskryf. Hy wil werk om kaste vol sjokolade, waarvoor hy lief is, te kan hê.
Christenette Barnard, Waldo se ma, sê hulle het voor 10:00 die honde in die erf uitgevat, waarna sy en Kleinboet met van die honde terug die huis in is en Waldo steeds buite was. In die huis het hulle begin gordyne en vensters toemaak toe sy die skoot hoor en vra wie nou dié tyd van die aand sal klappers skiet.
Kleinboet het uitgehardloop om na die “klappers” te kyk. Hy het teruggekom en gesê Waldo is dood, waarna Christenette uitgehardloop en Waldo met kopbeserings aangetref het. Sy het dadelik hulp ontbied. Die koeël wat Waldo getref het, is net bokant sy oog in en aan die agterkant van sy kop uit. Tydens die lugambulansvlug het hy as gevolg van skok beroerte gekry. Hy is tans in die Charlotte Maxeke-hospitaal in die intensiewesorgeenheid, waar daar gewag word dat die swelling sak. ‘n CT-skandering wys daar is geweldige breinskade en kneusings, maar voordat enige verdere mediese ingryp kan plaasvind, moet die swelling eers sak.
Christenette het ‘n boodskap van dank op Facebook geplaas: “Baie dankie aan elke liewe een wat tyd af gestaan het en daar was. Vir dié wat nie daar was nie en net ‘n boodskap gestuur het. Baie dankie. Ons waardeer elke boodskap, inloer, blom en oproep. Baie dankie aan al die First Responders wat kom help het Donderdagaand, aan Casseldale CPF vir julle vinnige optrede en bystand en dankie dat julle julle eie lewens in gevaar gesit het om ons te kom help. Dankie vir die tannie wat my hand vasgehou het die hele aand deur, ek weet nie eers wat is Tannie se naam nie. Baie dankie aan elke liewe ouer van Creative Education vir al julle hulp en bystand. Dankie aan my Fairy Juffrouens Mary Ann Smalberger, Carol Lee Van Greuning , Salome Fourie. Julle is my engele uit die hemel.”
Kapt. Sibeko, polisiewoordvoerder, het aan Nuusflits bevestig ‘n saak van poging tot moord word ondersoek, maar nog geen inhegtenisnemings is gemaak nie.
Intussen is ‘n massa-gebedseremonie vir Waldo gehou. Enigiemand wat Waldo wil ondersteun, word gevra om Christenette vir dié doel uitsluitlik by +27 73 698 9489 te bel.