VRYSTAAT. – William Sejane (57), ook bekend as Maidudu, en Lucky Motaung (54), ook bekend as Sebothe, is Vrydag vir die wrede plaasmoord op Dave Wessels (66) buite Viljoenskroon in Oktober 2020 in die Kroonstad-landdroshof tot lewenslange tronkstraf gevonnis.
Kapt. Loraine Earle, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die oorledene is die nag van 3/4 Oktober 2020 in sy plaaswoning oorval nadat die aanvallers deur ’n agtervenster toegang tot die huis verkry het. Hy is oorrompel, waarna sy hande en voete vasgebind en sy kop met plastiek toegedraai is. Hy is aan versmoring dood. Sy wit Toyota-bakkie en verskeie huisitems is gesteel.
Die saak is onmiddellik gepriotiriseer en aan sers. Morena Machalotsa van die provinsiale eenheid vir georganiseerde misdaad vir ondersoek toegeken. Deur intensiewe speurwerk is die gesteelde voertuig by ’n werkswinkel in Orkney teruggevind, terwyl die slagoffer se bankkaart vir transaksies in Orkney, Klerksdorp en Potchefstroom gebruik is. Beeldmateriaal het Motaung aan die aankope verbind, wat tot sy inhegtenisneming gelei het. Sejane, wat destyds net 16 maande op parool was nadat hy reeds ’n vorige lewenslange vonnis vir ’n soortgelyke misdaad uitgedien het, is later ook in hegtenis geneem.
Na ’n deeglike verhoor is beide beskuldigdes aan moord en huisroof skuldig bevind. Benewens die lewenslange vonnis vir die moord, is hulle ook elk tot sewe jaar tronkstraf vir huisroof gevonnis. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.





