WES-KAAP. – Die 10-jarige Octavia Swarts se liggaam is Maandagoggend 14 September 2026 omstreeks 08:30 in ’n dam by Tomatieplaas in Joostenbergvlakte gevind. Die Kraaifontein-polisie het ’n geregtelike doodsondersoekdossier geopen.
Konst.Ndakhe Gwala, polisiewoordvoerder, het aan Nuusflits bevestig dat die omstandighede van die voorval ondersoek word. Ian Cameron, DA-parlementslid en voorsitter van die portefeuljekomitee oor polisie, het sy meegevoel met Octavia se familie uitgespreek.
“Wat buite Kraaifontein gebeur het, is ongelooflik hartseer. ’n 10-jarige meisie het vermis geraak en is later dood by ’n dam gevind.” Cameron het gesê hy wil nie in hierdie stadium oor die omstandighede van haar dood spekuleer nie. Hy het ook gesê daar is vrae oor wat gebeur het nadat Octavia as vermis aangemeld is en hoe die toneel aanvanklik hanteer is. “Daardie vrae moet behoorlik beantwoord word, maar dit moet op feite gegrond wees,” het Cameron gesê. Hy het ’n beroep gedoen op enigeen wat Octavia gesien het of met haar gepraat het, of wat enigiets oor haar bewegings voordat sy gevind is weet, om die polisie te kontak. “’n Klein dogtertjie het haar lewe verloor. Haar familie verdien antwoorde en, bo alles, geregtigheid,”het hy gesê.
Kraaifontein Community Upliftment Facebook-blad het intussen Octavia se dood betreur en gevra: “Wanneer gaan die moorde op ons kinders STOP!!!” Volgens die blad was Octavia ’n gr. 4-leerling aan die Primêre Skool Joostenberg. Volgens die plasing op die blad het Octavia Sondagmiddag vermis geraak. Daar is deur die nag na haar gesoek.
Octavia word onthou as ’n skaam, stil en intelligente kind wat gereeld onder die toppresteerders in haar klas was. Haar niggie, Carmen Davids, het gesê Octavia was teruggetrokke by die skool, maar het by die huis ’n helder en liefdevolle persoonlikheid gehad. “Sy het ’n spesiale manier gehad om mense se harte te steel, veral haar ouma s’n,” het Davids gesê. In die plasing word gevra dat die saak met dringendheid, deursigtigheid en sorg hanteer word. Gemeenskappe is ook gevra om waaksaam te bly, na mekaar se kinders om te sien en veilige omgewings vir jongmense te skep.