OOS-KAAP. – Die ontbinde liggaam van die 11-jarige Athi Zimi Mnguni, wat sedert 30 Augustus vermis was, is Donderdag in ’n rivier by die Nomcamba-nedersetting in die Zinduneni- administratiewe gebied naby Ngqeleni gevind. Plaaslike inwoners wat in die bos gejag het, het op haar liggaam afgekom.
Kol. Siphokazi Mawisa, polisiewoordvoerder, sê Mnguni se liggaam is deur haar familie en lede van die gemeenskap uitgeken. Sy het steeds die klere aangehad wat sy gedra het toe sy verdwyn het. Mnguni is op 30 Augustus by die Ngqeleni-polisie as vermis aangemeld nadat sy omstreeks 16:00 verdwyn het terwyl sy saam met ander kinders by ’n nabygeleë sportveld gespeel het. Sy het volgens die polisie met ’n verstandelike gestremdheid geleef.
’n Multidissiplinêre soektog deur lede van die Mthatha-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe, die Ngqeleni-polisie, die K9-eenheid, berede eenheid en lede van die gemeenskap het gevolg, maar het aanvanklik geen resultate opgelewer nie.
Die polisie het nog nie bekend gemaak wat Mnguni se dood veroorsaak het nie.