VRYSTAAT. – ’n Voorval op die plaas Franshoek naby Ficksburg het Vrydagoggend die lewe van ’n 12-jarige meisie geëis nadat sy glo per ongeluk tydens ’n jag geskiet is.
Volgens AO Mmako Mophiring is ’n man na die vooval in hegtenis geneem en van moord aangekla. Volgens voorlopige inligting was die oorledene se pa en die man besig om te jag toe ’n vuurwapen glo per ongeluk afgegaan het en die meisie noodlottig gewond is. Die kind is vir behandeling na ’n plaaslike hospitaal gehaas, maar is omstreeks 09:00, kort ná aankoms, dood verklaar.
Die voorval is deur hospitaalpersoneel by die polisie aangemeld, waarna ’n moordsaak geopen is. Alle vuurwapens wat aan die verdagte behoort, is intussen gekonfiskeer en sal as deel van die ondersoek aan ballistiese toetse onderwerp word.
Die verdagte verskyn na verwagting vandag in die Ficksburg-landdroshof.





