LIMPOPO. – ‘n Saak van moontlike seksuele misbruik binne ‘n familie in die Vhembe-distrik het aan die lig gekom, nadat ‘n 13-jarige meisie se swangerskap ontdek is. Die polisie se gespesialiseerde eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe in Makhado ondersoek nou bewerings dat die meisie deur ‘n 14-jarige familielid met wie sy saamgewoon het, verkrag is.
Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê die saak het na vore gekom nadat die kind se ouma, by wie sy destyds in Nwa-Xinyamani gewoon het, opgemerk het dat iets met haar kleinkind se gedrag skort. Sy het die kind se ma gebel en gevra dat sy haar dogter kom haal.
Toe die moeder later self agterkom haar dogter lyk moontlik swanger, het sy haar in Mei vanjaar vir ‘n mediese toets geneem. Die kind was reeds vyf maande swanger. Die meisie het haar ma vertel wat gebeur het. Sy het gesê ‘n familielid wat by hulle gebly het, het haar glo snags terwyl sy geslaap het begin misbruik, die eerste keer in Februarie. Sy het tevergeefs probeer terugveg en hy het haar gedreig om stil te bly. Volgens haar het dit daarna herhaaldelik telkens in die nag gebeur.
Omdat die vermeende oortreder self nog ‘n kind is, sal sy saak nie soos ‘n gewone strafsaak hanteer word nie, maar ingevolge die Wet op Kinderregspleging voor die Kinderhof gebring word.





