WES-KAAP. – ’n 16-jarige seun is in Malmesbury in hegtenis geneem omdat hy na bewering toegang gehad het tot materiaal oor die seksuele misbruik van kinders en dit besit, versprei en afgelaai het. Die tiener is glo verbind aan die sogenaamde “764”-netwerke, internasionale aanlyn netwerke wat met die uitbuiting van kinders verbind word.
Lt.kol. Amanda van Wyk, nasionale polisiewoordvoerder, sê die polisie se nasionale eenheid vir reeks- en elektroniese misdaadondersoeke (SECI) het inligting van die Amerikaanse federale buro vir ondersoek (FBI), die Amerikaanse ambassade en die National Center for Missing and Exploited Children onvang en ondersoek. Die tiener is Maandag tydens ’n operasie by ’n adres in Malmesbury in hegtenis geneem. ’n Voorlopige ondersoek van sy elektroniese toestelle het glo beelde en video’s van kinderseksuele misbruik en dieremishandeling opgelewer. Verskeie kinderslagoffers is reeds geïdentifiseer, terwyl die toestelle vir ’n volledige forensiese ondersoek gestuur sal word.
Die 16-jarige sal na verwagting vandag in die Malmesbury-landdroshof verskyn. Ondersoeke na moontlike bykomende aanklagte van bedrog en geldwassery duur voort.






