GAUTENG. – Altesaam 17 mense is Saterdagaand in ’n taverne in Uitbreiding 3, Wedela, aan die Wes-Rand doodgeskiet. Nog 15 is met skietwonde beseer nadat gewapende aanvallers omstreeks 21:30 op mense binne en buite die taverne losgebrand het.
Volgens polisiewoordvoerder, kapt. Tintswalo Sibeko, het agt onbekende mans, met AK-47’s en pistole gewapen, die taverne binnegegaan, nadat hulle op mense buite geskiet het, en op die tavernegangers binne die perseel losgebrand. Van hulle is glo deursoek en van selfone beroof voordat die aanvallers met twee onbekende voertuie van die toneel gevlug het. Twee voertuie is ook tydens die voorval aan die brand gesteek.
Dertien mans en vier vroue is op die toneel dood verklaar, terwyl die 15 beseerdes na mediese fasiliteite vervoer is.
Die motief vir die skietery is nog onbekend. Die polisie het 17 aanklagte van moord, 15 aanklagte van poging tot moord en twee aanklagte van opsetlike saakbeskadiging geopen. ’n Span speurders en ander gespesialiseerde eenhede is gemobiliseer om die verdagtes op te spoor en in hegtenis te neem. Enigiemand met inligting wat die ondersoek kan help, word versoek om die polisie te kontak.