Brekende Nuus
Nuus

2 vir beweerde aanlyn bedrog in Observatory vas

Foto: Ter illustrasie

WES-KAAP. – Twee mans is Maandag in Observatory in hegtenis geneem in verband met beweerde bedrog tydens die verkoop van ’n kamera wat op Facebook Marketplace geadverteer is. Die voorval het by Riverlands Mall plaasgevind nadat die verkoper glo ’n kennisgewing ontvang het dat ’n betaling van R29 000 onmiddellik gemaak is. Die geld het egter nie in sy bankrekening gewys nie, wat die vermoede laat ontstaan het dat die betaling vals was.

Kol. André Traut, polisiewoordvoerder, sê die polisie se hommeltuigeenheid het inligting ondersoek oor die moontlike bedrog en met veiligheidsbeamptes en die klaer by die winkelsentrum in verbinding getree. Die twee verdagtes is aanvanklik na die Woodstock-polisiekantoor geneem waar verdere ondersoek gedoen en ’n saak van poging tot bedrog geopen is. Verdere ondersoek het hulle glo verbind met ’n bestaande bedrogsaak by die Milnerton-polisie en minstens drie ander beweerde voorvalle waarin slagoffers bedrieg is. Traut sê albei verdagtes is daarna op aanklagte van bedrog in hegtenis geneem en by die Woodstock-polisiekantoor aangehou. Twee selfone is ook as deel van die ondersoek in beslag geneem.

Die polisie het die samewerking tussen polisielede en private veiligheidsbeamptes geprys, wat tot die vinnige reaksie op die voorval bygedra het. Die polisie waarsku die publiek om versigtig te wees wanneer goedere aanlyn gekoop of verkoop word, aangesien bedrieërs dikwels vals betalingsbewyse en bedrieglike kennisgewings van onmiddellike betalings gebruik. ’n Betalingskennisgewing, skermskoot of betalingsbewys beteken nie noodwendig dat die geld ontvang is nie. Verkopers moet self bevestig dat die geld in hul bankrekening verskyn voordat hulle goedere oorhandig. 

Die polisie raai mense ook aan om boodskappe, kontakbesonderhede en ander rekords van aanlyn transaksies te bewaar en vermoedelike bedrog by hul naaste polisiestasie aan te meld.