OOS-KAAP. – Isaac Andile Memese is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan die verkragting van Celeste Gouws en huisbraak, ná ’n lang hofproses wat byna vyf jaar geduur het. Die uitspraak is in die KwaNojoli-landdroshof (voorheen Somerset-Oos) gelewer.
Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê die verhoor het reeds in Julie 2021 begin en die hof het uiteindelik gister uitspraak gelewer en die vonnis opgelê. Volgens getuienis het Memese op 2 September 2017 saam met Gouws en haar vriend alkohol gebruik. Nadat haar vriend later die huis verlaat het, het Memese glo teruggekeer, die huis binnegegaan en haar verkrag.
Landdros Eric Mbiyo het bevind dat Memese doelbewus opgetree het en ’n geleentheid gesien het om voordeel te trek uit ’n vrou wat onder die invloed van alkohol was. Die hof het die slagoffer, Celeste Gouws, as ’n betroubare getuie aanvaar en die verdediging se bewerings dat sy sou lieg verwerp. Adv. Gerrie Nel, wat die saak namens Gouws privaat vervolg het, het aan die hof gesê die aanval was vernederend en wreed. Hy het aangevoer dat Memese vooraf beplan het om die misdaad te pleeg.
Die Nasionale Vervolgingsgesag het gedurende 2020 besluit om nie met vervolging voort te gaan nie, waarna ’n nolle prosequi-sertifikaat uitgereik is. Dit het AfriForum se privaatvervolgingseenheid in staat gestel om die saak namens die slagoffer te vervolg.
Bateman sê die uitspraak wys hoe belangrik privaat vervolging kan wees wanneer slagoffers voel dat die stelsel hulle in die steek gelaat het. Hy sê die eenheid beplan nou om ’n kostebevel teen die NVG aan te vra vir die jarelange hofproses wat deur hul span gevoer is.
Druk hier om meer te lees.





