KWAZULU-NATAL – Ramith Aneerudh (38) van Newlands West, in Durban, is Vrydag 6 Maart 2026 tot 25 jaar tronkstraf in die streekhof in Umbumbulu gevonnis nadat hy betrokke was by ’n plan om sy vrou, Sarika Bridgmohan, te laat vermoor.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê in ‘n sosialemediaplasing Aneerudh het skuld erken op aanklagte van poging tot moord, sameswering om moord te pleeg, ontvoering, roof met verswarende omstandighede en diefstal. Die hof het beslis dat die ander vonnisse saam met die 25 jaar vir poging tot moord uitgedien sal word.
Die aanval het op 13 Maart 2024 op Sarika Bridgmohan plaasgevind. Sy is na ’n afgesonderde plek in Winkelspruit gelok, onder die voorwendsel dat sy en haar man dokumente by ’n prokureur moes gaan haal. Met hulle aankoms op ‘n sekere plek is Bridgmohan glo deur Aneerudh se twee medepligtiges oorval en met ’n tou gewurg voordat sy in ’n ander voertuig gelaai is. Die verdagtes het vermoed sy is dood nadat sy bewusteloos geraak het en het na die Ifafa-gebied aan die KwaZulu-Natalse Suidkus gery waar hulle glo van plan was om van haar liggaam ontslae te raak. Sy het egter bygekom en uit die bewegende voertuig gespring. Sy het beserings opgedoen en motoriste voorgekeer wat haar te hulp gesnel het.
Die slagoffer het uit vrees dat daar weer ‘n poging op haar lewe gemaak sou word die hulp van Rusa ingeroep. Beamptes het daarna ’n ondersoek begin en haar voertuig in ’n afgeleë gebied naby Umzinto opgespoor. Inligting het later aan die lig gekom dat die verdagtes na die Oos-Kaap gevlug het. Beamptes het sowat 560 km na Koffiebaai gereis waar Aneerudh en twee ander verdagtes op 16 April 2024 by ’n huis opgespoor en in hegtenis geneem is. Messe, ‘n tou en ‘n panga is in hul besit gevind. ’n Vrou wat glo met hul vlug uit die provinsie gehelp het, is ook aangekeer. ’n Vierde verdagte is later deur die polisie in Umzinto in hegtenis geneem.
Byna twee jaar ná die aanval het Aneerudh uiteindelik in die hof skuldig gepleit. Die sake teen die ander beskuldigdes duur voort.




