NOORDWES. – Jaco Wessels Kemp (36), Louis Coetzee (29) en Gert Frederik van der Westhuizen, is in die hooggeregshof skuldig bevind aan die moord op Dumisani Phakathi. Die oorledene se liggaam is agter op ‘n bakkie in swartsakke aangetref.
Lumka Mahanjana, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, Lumka Mahanjana, sê die drie het op 16 September 2023 op die hoenderplaas in Mamogalieskraal gebraai. Hulle het Phakathi omstreeks 16:00 buite die plaashek opgemerk waar hy sou gaan water haal. Hy is deur die drie by die plaashek aangerand, waarna hulle hom na ’n stoor op die hoenderplaas gesleep het, waar die aanranding voortgeduur het totdat hy aan sy beserings beswyk het.
In die vroeë oggendure van 17 September is Kemp en Coetzee deur die polisie tydens ‘n stop-en-deursoekingsoperasie op die R511 naby Brits voorgekeer. Die polisie het bene onder die sakke opgemerk, waarna Phakathi se bebloede liggaam in swartsakke met ‘n sak oor sy kop agter op die bakkie aangetref is. Die mans is op die toneel in hegtenis geneem. Van der Westhuizen het hom twee dae later aan die polisie oorgegee nadat ondersoeke hom met die misdaad verbind het.
Al drie die beskuldigdes het onskuldig gepleit en mekaar geblameer, maar die staat het deur getuienis en bewyse sy saak bo redelike twyfel bewys. Die saak is vir vonnisoplegging tot 16 Maart uitgestel.





