GRIEKELAND. – Drie Griekse brandbestryders het gesterf terwyl hulle veldbrande probeer bestry het wat nou ook op die eiland Kreta en in die Peloponnesos uitgebreek het.
Volgens die BBC het stormsterk winde die vlamme op Kreta aangeblaas, wat die ontruiming van verskeie dorpe genoodsaak het. Twee brandbestryders is dood nadat hulle vasgekeer is toe die brand deur die Rethymno-streek in die weste van die eiland versprei het.
Nog ‘n brandbestryder is dood nadat hy bewusteloos naby die suidelike Peloponnesiese hawedorp Gytheio aangetref is. Meer as ‘n duisend mense het al die gestorwe helde op die Facebook-blad Beautiful Greece vir hulle onbaatsugtige diens aan hulle gemeenskappe geëer.
Ooggetuies sê verskeie brande het op Kreta uitgebreek en vinnig versprei. Die ergste brand het oor ‘n afstand van tot 15 km gestrek. Owerhede het ontruimings in verskeie gebiede gelas terwyl nooddienste steeds teen die vlamme veg.
Veldbrande het ook elders in Griekeland uitgebreek, onder meer op die eilande Paros en Lesbos in die Egeïese See, asook by die suidelike dorp Trifylia op die Griekse vasteland.
Bronne: BBC, Beautiful Greece (Facebook)





