KWAZULU-NATAL. – ‘n 3-jarige meisie is Dinsdagoggend ernstig beseer toe sy na bewering deur drie honde in Redcliffe aangeval is.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê beamptes is kort ná 10:00 na ‘n informele nedersetting ontbied, nadat berigte ontvang is van ‘n kind wat deur honde aangeval is. Met hul aankoms het hulle die meisie met verskeie bytwonde aan haar regterbeen en kop aangetref.
Volgens Rusa het twee reuns na bewering deur ‘n grensheining van ‘n naburige erf gebreek terwyl hulle ‘n teef in die omgewing probeer bereik het. Die honde het daarna die kind aangeval. ‘n Derde hond het later bygekom voordat twee van die honde deur hul eienaar onder beheer gebring is. Rusa-paramedici het die meisie op die toneel behandel waarna sy per ambulans na ‘n plaaslike hospitaal vervoer is.
Volgens Rusa het die eienaar van twee van die honde hul inentingsrekords aan beamptes verskaf. Die eienaar van die derde hond kon nie opgespoor word nie. Daar is verder vasgestel dat die kind se ma in die Oos-Kaap woon en dat die meisie tans in die sorg van haar tannie is.





